Vlaggen4 Afrikaans English Nederlands Deutch

DIE VOORSPEL TOT "AFSTIGTING"

Vroegste Geestelike Bearbeiding
Tot in 1743 toe daar in die Verre Afgeleegene Districten "eene soorte van Magistratuure" tot stand gebring is, was daar aan die Kaap slegs drie gemeentes: Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein. Stellenbosch het oor die Hottentots-hollandberge, langs die Riviersonderend af en tot anderkant Mosselbaai gestrek. Die boere in hierdie streke kon dus alleen met groot opoffering en selfs ontbering by die kerk kom om die Nagmaal te gebruik of 'n kindjie te laat doop. Ná die stigting van die gemeente aan Roodezand (Tulbagh) was die Swellendammers weinig beter daaraan toe wat hul geestelike bearbeiding betref en dit is geen wonder dat mense met 'n diep-gewortelde godsdienssin die behoefte aan kerklike verband en geestelike versorging só sterk gevoel het dat hulle voortdurend vir 'n eie gemeente geywer het nie. Die Goewerneur en Politieke Raad het egter gemeen dat hulle met die dienste van Sieketroosters en Voorlesers tevrede moes wees.

Een van die uitvloeisels van Baron G. W. van Imhoff se besoek in 1743 was dat daar 'n Sieketrooster, Abraham Schietekat, in 1744 op Grootvadersbosch geplaas is. Drie jaar later word daar na 'n geskikte plek vir 'n sieketroosterswoning aan die Duivenhoksrivier gesoek en toe Swellendam in 1751 vir Christoffel Huner as Voorleser kry, sou hy voorlopig aan die Duivenhoks geplaas word. "Wordende niet alleen gereekent het midden deeser districten te zyn, maar ook alwaar de meeste huyshoudingen en sterkste famillien by elkander zyn woonende".

'n Hernude poging om 'n eie gemeente vir die Swellendamse distrik te kry, het in 1758 gestuit op die onwilligheid van die ingesetenes om dit eens te word oor die antwoord op die vraag of die kerk aan die Palmietrivier (later die Kafferkuilsrivier genoem) moes kom, dan wel nader aan die Drostdy. Met die intekenlys vir die bestryding van die boukoste het dit ook nie na wens gegaan nie, met die gevolg dat Swellendam nog veertig jaar moes wag om eers in 1798 'n selfstandige gemeente te word. Nog veertig jaar later word daar ook naby die Kafferkuilsrivier 'n gemeente gestig wat na die Swellendamse magistraat, Harry Rivers, Riversdal genoem is. Onder hierdie twee gemeentes het die bewoners van die streek geval wat in 1855 die gemeente Heidelberg sou word..

Versoeke om Afstigting
Maar ook Swellendam en Riversdal het mettertyd te vér geword en 'n beweging om afstigting het aan krag gewen. Op 16 Junie 1855 rig L. J. Fourie, J. J. Uys, P. R. Fourie, F. J, van Aardt, L. J. Fourie, J. H. Badenhorst, J. W. Lotz, J. P. Eksteen, P. J Lombard, H. J. Nieuwenhuysen, J. A. Buchner, P. G. Swart, A. P. B. van Niekerk, P. K. Krige, J. V. Buchner en J. H. Kleynhans 'n versoekskrif aan die Swellendamse Kerkraad:
"Daar wy, en anderen met ons, begeerig zyn, om eene nieuwe gemeente opterichten, aan de duivenhoks Revier, tot welke einde, eene vergadering gehouden zal worden, op den 5den July aanstaande, zoo hoopen wy, dat zoodanige Oprichting, Uw Eerwaardens goedkeuring weg draagen zal".

Op 30 Junie besluit die Kerkraad om te antwoord:
"dat wanneer het blyken mogt de algemeene begeerte te zyn, en dat de Bevolking genoegzaam is, eene bestaanbare gemeente uit te maken, de Kerkeraad er niets tegen heeft, dat aan zoodanige begeerte voldoen woorde".
Twee dae later het ook die Riversdalse Kerkraad hul seën aan 'n dergelike versoek gegee, met die vertroue dat die grensreëlings in die smaak van die betrokke plaaseienaars sou val.

Gesterk deur die besluite van die Kerkrade, het L. J. Fourie, Philip seunr E. P. Kleynhans, P. K. Krige, F. J. van Aardt, P. G. Swart, J. D. K. Reitz (wetsagent te Swellendam), J. V. Buchner, N. W. Pentz, C. G. C. Rall, J. P. Eksteen A. P. B. van Niekerk, P. Swart, P. R. Fourie, J. H. Kleynhans en P. J. Uys toe op 14 September 1855 op Doornboom saamgekom en met die beer L. J. Fourie 'n Akte van Ooreenkoms gesluit waarvolgens die som van £5,000 gewaarborg is vir dié gedeelte van Doornboom wat aan die regterkant van die Duivenhoks gelê het, met die doel om daar 'n kerkdorp aan te lê.

Vervolgens is daar 'n memorie waarin om afstigting gevra is, aan die Ring van Swellendam gerig wat in Oktober 1855 op Riversdal sou vergader. Die memorialiste se verteenwoordigers, C. J. Human, R. L. du Plessis, Pieter Swart en P. G. Swart, het in die vergadering verduidelikings kom gee en onder andere gesê dat Fourie hom verbind het om
"zoodra de bedongen prys, door den verkoop van erven afbetaald zal zyn en alle gemaakte onkosten bestreken zyn zullen, al het overschietende geld, benevens alle grond die onverkocht mogt blyven, aan den Kerkeraad die aangesteld moge worden ten behoeve der gemeente over te maken".

'n Interessante statistieke opgaaf wat hulle ter tafel gelê het, toon aan dat die nuwe gemeente uit 541 siele sou bestaan van wie 328 lidmate was, terwyl daar ook etlike honderde Kleurlinge vermeld word.
Nadat die saak deeglik bespreek is, het die Ring die afstigting met eenparige stemme goedgekeur en die Ringsafgevaardigdes van Swellendam en Riversdal — dr. Wm. Robertson en ds, P. B. Borcherds en Ouderlinge Daniel de Bruyn en F. H. Badenhorst — as 'n kommissie benoem om die grense te bepaal en Kerkraadslede te kies. Ds. Borcherds sou as konsulent optree en die ringscriba moes by die goewerment aanklop om die gebruiklike konsulentstoelaag van £37 10s. per jaar wat destyds nog deur die regering aan kerklike amptenare toegeken is.

ʼn Gemeente Gebore
Binne 'n maand ná die ringsitting was die afstigting 'n voldonge feit, want op 13 November het dr. Robertson, ds. Borcherds en Oud. De Bruyn op Doornboom byeengekom en in oorleg met die belanghebbendes wat aanwesig was, aan die opdragte van die Ring uitvoering gegee. Oud. Badenhorst kon nie teenwoordig wees nie, omdat hy op reis moes gaan.
Tot ouderlinge is benoem die Broeders J. J. Gildenhuys en H. J. Odendaal (1806-1883) en tot diakens C. J. Uys, J. J. van Wyk, E. P. Kleynhans en C. J. Human. Gildenhuys, Uys en Kleynhans het reeds in Swellendam gedien en Odendaal en Van Wyk in Riversdal. Hulle was almal teenwoordig en het hulle die benoemings laat welgeval, maar Odendaal het later weer teruggetrek, waarskynlik omdat hy verkies het dat sy plaas Kragga onder Riversdal moes bly ressorteer. Toe die Ring egter sy versoek geweier het, het hy tóg later as ouderling in die jong gemeente gedien. Ná sy bedanking is C. J. Uys tot ouderling en J. P. Eksteen in sy plek tot diaken verkies.
"Tussen Swellendam en Heidelberg sou die grens loop van die Poort van Buffeljagtsrivier in 'n reguit lyn eers na die oostekant van Hectorskop en dan na die mond van die Duivenhoksrivier; tussen Riversdal en Heidelberg sou die lyn van die Plattekloofstol oor die plase Remhoogte en Kraggaskraal na Melkboom loop en daar vandaan in 'n reguit lyn na Dassiesklip aan die Duivenhoksrivier". Al die genoemde plase sou binne die nuwe gemeente val. Hierdie grense is in die loop van die eeu herhaaldelik verander. Veral met die lyn tussen Heidelberg en Riversdal wou ds. Daneel nooit genoeë neem nie en tot die einde toe het hy volgehou dat dit van die begin af verkeerd was!

Dorpsnaam
Die naam Heidelberg is nog vóór die amptelike stigting van die gemeente daaraan toegeken. Waarskynlik het dit van ds. Borcherds gekom en is dit genoem na die Duitse universiteitstad aan die Neckar waar in opdrag van die vrome Koning Frederick III, Keurvors van die Paltz, die Heidelbergse Kategismus in 1563 opgestel is. Nog twee ander plekke in ons land sou later ook hierdie naam kry: Heidelberg aan die Suikerbosrand in die Transvaal (1865) en Bethulie in die Vrystaat (1869), dog laasgenoemde het drie jaar later besluit dat haar ou Hebreeuse naam beter was.

Uit die boek:
Eeufees Gedenkboek van die Ned. Geref. Kerk HEIDELBERG (Kaapland) 1855 – 1955 deur H.C. Hopkins (Leraar van die N.G. Kerk en Veldprediker by die Unie-Verdedigingsmag te Oudtshoorn).