Vlaggen4 Afrikaans English Nederlands Deutch

STADSSAKE

 

Stadsale
Heidelberg het sy eerste stadsaal in 1887 gekry toe die eienaardige ou markhuis van 16 x 24 voet ter herinnering aan Koningin Victoria se Goue Jubileum met 64 voet en teen 'n koste van £280 vergroot is om 'n stadsaal uit te maak. Die hoeksteenlegging het op die dag van die jubileum plaasgevind en die saal is op Woensdagaand, 19 Oktober 1887 met 'n "Musical and Comical Entertainment" deur die "Mutual Improvement Society" geopen. Aangesien dit die dubbele doel moes dien van 'n stadsaal sowel as van 'n gebou waarin die jaarlikse wolmark in Oktober gehou kon word, is dit van die begin af "Die Wolstoor" genoem en op 28 Oktober 1887 is dit toe ook met die wolmark "kommersiëer" ingewy, "Riversdal en Swellendam plukten altyd de wolvruchten", skryf 'n korrespondent aan De Volksbode, "nu is er voor goed een einde aan, en wy zullen zelf de beentjes kouwen".
Dit was hierdie ou gebou wat geen tevredenheid meer aan die jeug van die jare om 1910 kon gee nie en wat toe ook een aand afgebrand het om deur die huidige stadsaal vervang te word waarvan die hoeksteen op 10 Augustus 1912 deur Burgemeester R. P. C. Miller, snr. gelê is. Volgens die planne van mnr. W. A. Palliser sou die saal, kantore en 'n biblioteek £3,500 kos. Die nuwe gebou is op 16 Julie 1913 ingewy. Om aan die oorspronklike plan te voldoen, is daar in 1931 'n vlerk aangebou om die openbare biblioteek te huisves. Die werk is op 'n tender van £390 deur mnr. M. J. Swanepoel gedoen. Toe die stadsaal gebou is, het die biblioteek in groot verknorsing verkeer en daar is met die beroemde Carnegie oor 'n skenking van £1,000 onderhandel om die inrigting weer op die been te bring. Ongelukkig het met die brand in die eerste stadsaal ál die Raad se notule verlore gegaan, sodat daar tans geen rekords van vergaderings vóór 1914 beskikbaar is nie.

Uniedag (1910) en Lewendige Tye
Die historiese vereniging van die vier provinsies is op 31 Mei 1910 in Heidelberg gevier met dienste in die verskillende kerke en 'n saamtrek van die kinders van die distrik die namiddag in die Stadsaal waar medaljes uitgedeel is en die sprekers Rev. F. C. Boehm en mnr. Henry Uys was. In 1911 was daar gedurig gesellige byeenkomste en selfs "the bioscope people seem to find us worth while", het iemand geskryf. "In fact, as the old lady said, Heidelberg is getting more like London every day"!

Heidelberg of De Waal?
Omdat die naam van die dorp soms verwarring geskep het, was daar in 1917 'n beweging op tou om dit na "De Waal" te verander ter ere van die gewilde Administrateur van Kaapland, Sir Frederic de Waal. So 'n ingrypende voorstel het egter ander en sterke magte in beweging gebring — en Heidelberg het Heidelberg gebly!

Water en Elektrisiteit
Die twee kernvereistes vir die ontwikkeling van enige moderne dorp het in Heidelberg ook mettertyd meer aandag geverg. Toe die dorp 'n eeu gelede aangelê is, was daar reeds lankal 'n voor wat die rivierwater na die plaas uitgelei het. Van hierdie sloot word daar vandag nog vir leiwater gebruik gemaak. Verskeie uitkeerdamme is met verloop van tyd in die rivier gemaak, maar hulle het telkens weer voor die geweld van die vloedwaters geswig en daar moes met draad en takke en sandsakke voortgesukkel word. Op die oomblik is daar 'n goedkoper wal dan die vroeëre en 'n ent hoër op in die rivier op 'n dwarsbank.
Tot dertig jaar gelede moes meeste huisvroue self planne maak om 'n gereelde voorraad uit die sloot en in die kombuis te kry. Die gevaar vir besmetting was nie uitgesluit nie en feitlik elke jaar het daar gevalle van maagkoors voorgekom. Nadat die saak van beter watervoorsiening reeds teen 1904 deur die Munisipale Raad oorweeg is, het die Duivenhoksrivier Besproeiingsraad ná baie teenslae en besware eindelik in 1912 sy beslag gekry en toe kon daar ook aan 'n groot skema vir besproeiing sowel as vir huishoudelike gebruik gedink word, die uitvoer waarvan uiteindelik £40,000 gekos het. 'n Dam is op die plaas van mnr. W. J. van Zyl aan die berg gebou en die water deur Ingenieur W. A. Palliser in 'n kanaal hoog bokant die Skoolkop langs gebring na 'n dam wat in 1917-'18 met 'n dertig voet hoë wal op 'n tender van £2,725 deur mnr Jack McKillop in die Quarrykloof gebou is. Hierdie skema het groot uitbreiding moontlik gemaak en die Munisipale Raad kon dadelik nuwe besproeiingserwe verkoop en verhuur.
Maar terselfdertyd het die Quarrykloofdam aan die Raad die geleentheid gebied om 'n pypskema vir water vir huishoudelike gebruik in werking te stel. Die eerste syferbeddings en 'n skoonwaterdam is in 1926 deur die kontrakteurs E. B. Miller en W. S. Smith saam gebou en hierna kon 'n voorraad van suiwer water in pype na die huise aangelê word. Groeiende behoefte het verdere uitbreidings noodsaaklik gemaak en die voorsiening van 'n gereelde voorraad van suiwer water vir huishoudelike gebruik het die dorp £21,400 gekos. Ook die spoorweg kry sy water uit die dorp se stoordam.
In 1931 is 'n elektrisiteitskema vir die dorp en 'n paar omliggende plaashuise voltooi en op 1 Augustus in gebruik geneem. Soos later uitgebrei, het die skema £11,650 gekos.
'n Behoorlike abattoir is in 1930 teen £295 deur mnr. Klaas Kramer gebou.

Teerstrate
Vir baie jare reeds het Heidelberg vir 'n geteerde hoofstraat gewag. Uiteindelik het die nasionale pad toe nie deur die hoofstraat geloop nie, maar 'n paar teerstrate — van die beste — het die plek daarvan geneem om die voorkoms en netheid van die mooi dorp grootliks te verbeter.