Vlaggen4 Afrikaans English Nederlands Deutch

Oorstromings

En die reëns het gekom . . . En die riviere het weggeneem wat in hul pad was! Heidelberg is aangelê naby die same-vloeiing van die Duivenhoksrivier wat uit die blou Langeberge kom en die baie kleiner Doornrivier wat gewoonlik 'n droë loop is, maar 'n bruisende stroom kan word wanneer vinnige donderstorms langs die rante bokant die dorp uitsak. Langs die oewers van hierdie riviertjie het die tuine en die huisies van die groenteboere gelê.

1867: Nadat daar op Vrydag, 3 Mei 1867 herhaalde sterk reënbuie geval het, het die aand onder swaar stortreën aangebreek. Tussen 1 en 2-uur daardie nag het die Doornrivier oor sy oewers gestoot, met vernielende krag in die hoofstraat afgestorm, met die waters uit die heuwels en die klowe teenoor die dorp verenig, met woedende krag teen die huis en pakhuis van Hopkins op die hoek van die hoof- en Fouriestraat aangedruis en spoedig 'n groot gedeelte van die mure neergehaal. Die helfte van die stoep voor die winkel van Helm is vervolgens deur die krag van die stroom weggeveeg en toe het die woonhuis en buitegeboue van Jan Human (waar mnr. Hennie van Eeden vandag woon) aan die beurt gekom en die buitegeboue het ingestort . . . En só het dit voortgeduur in daardie nag van verskrikking wat nie gou vergeet sou word nie: Mense wat hul toevlug op solders moes soek, Jan Human met sy gesin vir twee uur op 'n stuk muur, mnr. en mev. Blant in 'n boom tot dagbreek toe . . . "Het gekletter van den stortenden regen, het bulderen der wateren, het geraas van geweren afgeschooten by huizen die in gevaar waren, het geschreeuw van in nood verkeerenden, het gehuil van honden en het stikdonkere van den nacht, dit alles maakte het toneel waarlyk schrikwekkend en zelden is so reikhalsend naar den dag verlangt, of zyn meer vurige gebeden tot Hem omhoog opgezonden dan by deze noodlottige gelegenheid".

1875: Maar op die vooraand van Kersfees 1875 het dit nog erger gegaan! Weer het die Doornrivier met siedende woede op die dorp afgekom en verwoesting en dood gesaai. Hierdie keer het die heer Helm se huis heeltemal ingestort, dog dit was maar slegs één van die 43 huise wat gedeeltelik of heeltemal verniel is en die skade in die dorpie het oor die £8,000 beloop waarvan Henry Helm en Charles Hopkins elk £1,000 opgegee het. 'n "Hulp-Comité" is dadelik in die lewe geroep om 'n beroep om hulp deur die land te stuur en om die gawes uit te deel waar die nood die hoogste was. Ds. Daneel wat nie tuis was nie, het hom onvermoeid aan die taak van insameling gewy en eindelik kon daar sowat £1,320 uitgedeel word aan die verdienstelikste gevalle.

Met alle mag is daar nou getrag om die woede van die Doornrivier te tem. In die nouste samewerking met Kaptein Thomas Tinley, Magistraat van Swellendam, en met behulp van die heer Jan Human, Lid van die Wetgewende Vergadering, is die "Heidelbergse Kanaalwet" op 4 Julie 1876 deur die parlement gevoer waardeur aan die Munisipale Raad die reg verleen is om £2,000 op te neem om die loop van die Doornrivier tot 'n reguit, diep kanaal te beperk. As sekuriteit vir hierdie lening is hulle gemagtig om 'n spesiale Kanaalbelasting van hoogstens 'n pennie in die £ per jaar op alle vaste eiendom in die dorp te lê. Die goewerment het gevangenes vir die werk gegee, die Raad moes vir die gereedskap en die materiaal sorg en toe is die kanaal van omtrent 'n myl lank gegrawe, 40 voet wyd bo en 20 onder, met 'n gemiddelde diepte van omtrent 12 voet. Die werk het die Raad sowat £1,300 gekos en groot uitgawes soos hierdie het 'n klein dorpie in sy ontwikkeling gestrem.

1902: In Februarie 1902 was dit die Duivenhoks wat die skade veroorsaak het. In sy vaart gesluit deur 'n opdamming tussen twee hoë kranse enkele myle onderkant die dorp en miskien ook deur die hoë opvulling van die spoorweg wat in aanbou was, het die vloedwaters oor die dorp teruggestoot en 'n groot aantal huise laat intuimel, terwyl waardevolle besittings onder modder bedek of see toe gevoer is. Hierdie keer het 'n jongman in die krag van sy jare, Helgard M. J. van Rensburg, die lewe ingeskiet toe hy op Donderdag, 13 Februarie die oggend ná die ergste hoogwater te perd by die ou Skuitgat deur die rivier wou kom, met sy perd onklaar geraak en verdrink het.
Die Biggsbrug, 'n houtbrug wat in 1893 aan die onderkant van die hoofstraat op die pad na Riversdal oor die Duivenhoks geopen is, is nou ook meegesleur en vir baie jare nie vervang nie. Selfs later toe daar 'n laagwaterbrug gelê is, is talle motors deur die vloedwaters voorgekeer wat so skielik die oorgang kon laat verdwyn. Die brug is later hoër gemaak en sedert die Nasionale Pad voltooi is, dra 'n pragtige brug die grootpad hoog oor die water. Terselfdertyd het die oorstromings van 1902, 1904 en daarna die loop van die rivier só oopgeruk, dat latere hoogwaters, soos byvoorbeeld in 1928, nooit weer met soveel krag in die dorp gekom het dat groot skade aangerig is nie.