Vlaggen4 Afrikaans English Nederlands Deutch


DISTRIKSAANGELEENTHEDE

Afdelingsraad (1930)
Tot die stigting van Riversdal, het die hele Heidelbergse distrik onder Swellendam geressorteer, maar sedertdien was die distrik administratief verdeeld, aangesien die deel ten ooste van die Duivenhoks onder Riversdal getrek is. Deur Proklamasie 93 van 1930 is die twee dele egter weer verenig onder Heidelberg se eie Afdelingsraad - 'n geleentheid wat saamgeval het met die hoeksteenlegging van die nuwe Kerksaal en wat as Stigtingsdag op groot skaal gevier is. Een van die grootste yweraars om hierdie doel te bereik, was wyle mnr. Alwyn P. Joubert en toe die eerste Afdelingsraad op 16 September vergader, is hy tot voorsitter gekies. Die sekretaris was en is nog altyd mnr. W. F. van Wyk. Die waarde aan vaste eiendom onder die Raad beloop vanjaar £2,639,260 en volgens die begroting vir 1955 is die inkomste op £20,865 beraam, waarvan £10,792 aan belastings op vaste eiendom moes inkom. In 1937 het die Raad die vroeëre wolstoor met sy perseel gekoop, die ou gebou gesloop en 'n netjiese blok kantore opgerig. Die Raad beskik tans oor die dienste van 'n kantoorpersoneel van drie, vyf Padvoormanne en 'n Padinspekteur. Beheer word onder andere uitgeoefen oor die dorpsgebiede van die Witsand en Port Beaufort, sowel as oor die Kleurlingneersetting te Slangrivier (Askraal).

Die kwessie van vervoer het natuurlik nog altyd die groot saak gebly waarmee die Afdelingsrade hulle moes besighou en ofskoon hierdie distrik met sy produkte van vroeg af reeds binne makliker bereik van die mark in die hoofstad was dan baie ander dele van ons land, moes daar tóg aan bergpasse en moeilike paaie aandag gegee word. 'n Vroeë werk wat die oudste Afdelingsraad aangepak het, was die maak van 'n beter pad deur Plattekloof by die ou Gysmanshoek. Dit is in 1860 gemaak en Hudsonspas genoem na Magistraat Hudson. In 1863 het die Raad ook £207, waarvan £107 deur intekening gevind is, aan die verbetering van die Ertjiesvleipas bestee. Riversdal wou hiermee nie help nie, omdat hulle bevrees was dat die boere hul produkte na Heidelberg sou stuur in plaas van na Riversdal! In Mei 1867 is daar ook 'n aanvang gemaak om met 'n 300 gevangenes en onder die bekwame leiding van ou A. G. Bain van Bainsklooffaam se seun Thomas 'n pad deur die Tradouwskloof te maak. Die Afdelingsraad moes die nodige geboue oprig en £1,000 aan kontant vir hierdie werk bydra. In Oktober 1873 kon Goewerneur Sir. Henry Barkly hierdie nuwe "Southeyspas" open en nou het die pad oopgelê vir die boere uit die Klein Karoo om hul produkte na die hawe in Port Beaufort te bring. Die stoombootdiens tussen Kaapstad en Port Beaufort het die vervoerprobleem per ossewa baie verlig, maar tot die verbasing van die owerhede het die hawe aan die Breërivier nooit opgebloei om aan die hoë verwagtings wat daarvan gekoester is, te voldoen nie.

Die Heidelbergse Afdelingsraad het heel vroeg reeds begin om die werk aan die paaie te meganiseer en die plan is om binnekort met die teer van die vername ekonomiese slagaar, die pad tussen die dorp en die Witsand deur die graanskuur van die distrik, die Vlakte, te begin. Nadat daar jare voor gevra is, kon 'n stewige brug oor die Kanaal in die dorp 'n klompie jare gelede gebou word. Aan geproklameerde paaie is die Raad tans verantwoordelik vir 81 myl hoofpaaie en 203 myl afdelingspaaie.

Magistraatsdistrik
Vanaf 2 Augustus 1938 het Heidelberg 'n eie magistraatshof gekry met 'n assistent-magistraat, maar vanaf 19 Desember 1941 het dit 'n selfstandige magistraatsdistrik geword. Die magistrate wat die distrik tot dusver gedien het, was die here P. W. J. Joubert (wat reeds vanaf 2 Augustus 1938 as assistent-magistraat hier opgetree het), N. A. Genis (1941-'43), S. A. Fourie (1943-'46), A, C. S. Beyleveld (1946-'48), D. C. Rossouw (1948-'49), G. H. J. Venter (1949-'51) en D. J. de V. Beukes (sedert 1951). Vroeër is 'n beperkte regspraak uitgeoefen deur Albert White en Henry C. Hopkins, snr. wat as Spesiale Vrederegters gedien het.
Nadat daar in 1936 'n mooi Poskantoor gebou is op die blok wat sedert die vroegste dae vir die nodige openbare geboue uitgehou is, het 'n doelmatige magistraatskantoor in 1946 op dieselfde perseel gevolg en daar is ook vir 'n doel-matige Residensie gesorg.

Boerdery
Sowat 'n eeu gelede het daar in die ou stelsel van vee-boerdery 'n ommekeer gekom toe die merino met sy wol die ou vetstert Afrikaner met sy vleis verdring het. Aangesien die Heidelbergse omgewing juis die toneel van die vroeë Van Reenens, F. W. Reitz en andere se eksperimente met wolskape was, is dit begryplik dat dit een van die distrikte sou wees waar die wolskaap eerste tot sy reg gekom het. Met die kragtige steun van die progressiewe Barry en Neefs het die wol-boerdery dan ook spoedig opgebloei en ryke vrugte afgewerp.
Reeds in 1856 het Cornelis Human van Krombeksrivier die pragtige silwerbeker verower wat Barry en Neefs vir die beste wolskeersel van die jaar uitgeloof het en in Oktober 1863 het Heidelberg die voorbeeld van Swellendam en Riversdal gevolg toe hulle die eerste van hul Wolmarkte gehou het wat 'n jaarlikse instelling geword het. Die verkoping het volkome na wens afgeloop en van die 50,000 pond wol wat aangebied is, is 40,000 pond verkoop teen 'n gemiddelde prys van 15 1/4 pennie per pond. Die kopers was Barry en Neefs, Gebrs. Mosenthal, Taylor, Hopkins en Human. Daar was 22 verkopers en S. Cloete en C. J. Human het die hoogste prys van 16 pennies gekry. J. F. Uys, C.J./seun en L. P. Human, C.J./seun het elk 15í pennies behaal. By die veiling het dit duidelik geblyk dat alleen goed opgemaakte en gewaste wol die hoogste pryse kon verseker en die wolmarkte het dan ook nie net 'n gesonde gees van kompetisie geskep nie, maar die boere van die noodsaaklikheid oortuig om hul kuddes te verbeter en hul skeersels deeglik te versorg.

Die snymasjien wat reeds teen 1852 naby Kaapstad in gebruik gekom het, het in 1857 ook in die Swellendamse distrik sy verskyning gemaak toe Dr. Henry White een na Miggelskraal gebring het. Ook 'n dorsmasjien is ingevoer en die skaarste aan arbeid sou die boere baie meer van masjinerie gebruik laat maak het indien die goed net makliker herstel kon word! Hierdie paar vroeë masjiene het die voorlopers geword van die groot proses van meganisasie wat die groeiende graanbou in die jare dertig van die huidige eeu vergesel het. In 1859 verneem ons ook vir die eerste keer van sogenaamde "Bywooners" op die plase.

Die ongekende droogte van 1859-'60 het ook die distrikte Riversdal en Swellendam swaar getref en 'n demper op alle ontwikkeling geplaas. Omdat die fonteine ook nou aangetas is, is die aandag van die boere op die noodsaaklikheid van damme gevestig. 1861 was egter weer 'n baie nat jaar en die pragtige oeste is grootliks deur roes beskadig. Vir hul hele wolskeersel van 15,000 pond het die broers Thomas en Donald Moodie van Grootvadersbosch en Westfield by die eerste Swellendamse Wolmark (1861) 19 pennies per pond geweier.

In 1862 het Tabak ook aandag geniet. Die vorige jaar is daar nog £21,835 se tabak ingevoer, maar nou is dit bevind dat die plant uitstekend geaard het naby Heidelberg en in die Cango by Oudtshoorn. Die boere was egter nog onkundig aangaande die bewerking van die produk, Vier jaar later het daar op meer dan een Heidelbergse plaas reeds 150,000 tot 200,000 plante gestaan en namate die produk beter geken en gewaardeer is, het die Heidelbergse roltabak 'n feitlik ongeëwenaarde roem in die Onderland geniet.

Die wolskeersel van 1866 was groter dan ooit vantevore. Uit Port Beaufort alleen is 160,000 pond verskeep, terwyl daar ook nog 400,000 pond vir verskeping na Kaapstad gestuur is. Die veestapel is aanmerklik verbeter en in 1862 lees ons van Franse merino-ramme wat goeie pryse behaal het, terwyl daar ook Meauchamp- en Southdown-ooie en 'n Alderney-bul ingevoer is. En tog was daar in 1868 'n merkbare terugkeer na die ou grootvee- en perdeteelt — en klagtes oor die "mielie-wurm". Nog drie jaar later het die merino reeds heeltemal die oorhand gekry en was byna alle beskikbare weiding aan hulle gegee. Die paar boere wat in hierdie tyd na die Diamantvelde verhuis het, was almal min of meer suksesvol. Selfs die eienaar van Hooikraal waar daar 'n klein diamantjie gevind is, het elders beter gaan soek!

Met die volstruisboerdery is daar in 1863 'n begin gemaak en teen 1869 was dit in Riversdal goed bekend en boere soos Le Grange, Lotz en Odendaal het 'n dertig tot veertig voëls aangehou. In 1875 was Riversdal die distrik met die meeste volstruise in die Kolonie - - byna 400 meer dan Oudtshoorn! Gelukkig het die pryse ook nou redeliker geword, want vóór die tyd is daar maklik £150 vir 'n goeie mannetjie betaal! Tussen 1904 en 1911 was daar weer 'n groot oplewing in verband met volstruise, maar die motor en Wêreldoorlog I, saam met die giere van veranderlike vroue-modes, het die mark in duie laat stort.

'n Mens wonder soms hoedat ons wêreld 'n eeu of meer gelede gelyk het en dan is dit interessant om van dieselfde Swellengrebel wat kabeljoue gevang het, te verneem dat die heuwels tussen die Duivenhoks en Grootvadersbosch "voorheen grasryk, maar nu digt met renosterbosjes begroeid waren" (1776). En tog lê Heidelberg vir die mense uit die Karoo nog altyd in die "Grasveld" en dit is opvallend dat daar in die jongste jare baie aandag gegee word aan die verbetering van die weiding en Heidelberg het 'n vername sentrum geword vir suiwelboerdery, terwyl die mooi koeitjies van die Jersey-eilande 'n algemene gesig is.

Veral aan die bergkant is daar nog altyd heerlike vrugte gekweek en die sitrusbedryf het in die afgelope paar jaar so 'n merkwaardige opbloei beleef dat die Duivenhoksrivier Sitrus-koöperasie Beperk op 5 Oktober 1953 geregistreer kon word om in Mei 1954 met sy werksaamhede te begin en omtrent 8,000 kissies lemoene vir uitvoer te verpak en 22,000 sakkies op die binnelandse markte te stoot. Die skatting vir vanjaar se oes was 12,000 kissies en 20,000 sakkies. Die stigters van die Koöperasie was mnre. A. E. Booysen (wat ook die eerste voorsitter van die direksie is), J. Meyer, Du T. van Eeden en C. B. Uys.

Toe Isak Schryver in 1689 oor die Duivenhoksrivier trek, het hy agtergekom dat die grond baie geskik was vir die koringbou en Swellengrebel noem die wêreld hierlangs ook "schoon bouwbaar land". Die verskillende graansoorte is dan ook altyd hoofsaaklik vir eie gebruik gesaai en in 1866, die verskriklike bankrotjaar, is die nuwe Du Toitskoring vir die eerste keer in Swellendam uitgetoets. Dog, die spoorvrag moes eers verminder word en daar moes 'n aantal boere uit die distrikte Caledon, Bredasdorp en Riviersonderend intrek om nie alleen aan die genealogie van die distrik Heidelberg nie, maar ook aan die ou boerdery-patroon 'n gans nuwe voorkoms te gee. In 1925 was die oes sowat 4,000 sakke, maar vanaf 1930 het die graanbou geweldige afmetings begin aanneem sodat die opbrengs in die jongste oes 168,000 mud koring, 61,000 mud hawer en 73,750 mud gars gelewer het. Nieteenstaande die wisselvallige reënval getoon het dat daar nie altyd op die aanvanklike sukses van die beginjare gereken kon word nie, het die graanbou oënskynlik gekom om te bly.

Landbougenootskap
In 'n vergadering van belangstellendes is daar op 5 Maart 1943 eenparige steun gegee aan 'n voorstel van mnr. H. J. A. van Eeden "dat hierdie vergadering die wenslikheid voel om 'n Landbougenootskap te stig en dat 'n voorlopige kommissie gekies word om dinge deeglik te ondersoek". Op 30 April 1943 is so 'n genootskap toe in die Graanstoor gestig met mnr Hennie van Eeden as die eerste voorsitter en 'n sterk komitee om hom by te staan. Die genootskap se eerste landbouskou is op 21 en 22 Februarie 1945 deur die destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landbou-Unie, tans Dr. G. J. Rossouw, geopen en was so suksesvol dat dit 'n jaarlikse instelling kon word. In 1948 is 'n perseel regoor die sportgronde aangekoop waarop 'n gerieflike stoor gebou is waarin die dames se uitstallings sedertdien gehou word. Aangesien die ruimte op die sportgronde egter te beperk is, het die genootskap in 1953 ses morge grond van mnr. M. G. Joubert van Doornboom aangekoop waarheen hul bedrywighede mettertyd verskuif sal word.