Vlaggen4 Afrikaans English Nederlands Deutch

ONTWIKKELINGSGANG VAN 'N GEMEENSKAP

DIE DORP

Die Wording
Toe die eerste erwe op Doornboom op 21 en 22 November 1855 onder Afslaer J. Fred Kirsten se hamer gekom het, is die waarborg van £5,000 wat Louis Fourie vir sy grond gekry het, met £4,790 15s. 9d. oortref. Dit moes vir die fondse van die N.G. Kerk gaan, maar wat presies daarmee gemaak is, word nie duidelik vermeld nie.

Betreffende die reëling van sake wat gewoonlik onder 'n Munisipale Raad val, moes alle erfhouers hulle voorlopig onderwerp aan die wette en bepalings wat deur die "Bestuurders", die here Pieter Swart (Goewerneur), Petrus G. Swart (Bril), Louis J. Fourie, Philip seun (Tradouw) en Jan D. K. Reitz gemaak sou word, of ná hul aftrede deur die Kerkraad wat hul plek sou neem.
Die dorpsake het so goed gevlot dat iemand so vroeg as Desember 1856 kon skryf: "Dit nieuwe dorp maakt reeds een aanzienlyk voorkomen" en dan eindig die berig met die profetiese vraag: "Wie veracht den dag der kleine dingen?" Net 'n bietjie meer dan 'n jaar later lees ons weer: "Het dorp gaat voorspoedig vooruit, vele gebouwen zyn reeds gesticht, een aanzienlyke handel wordt gedreven, de school bloeit; en, wanneer het de gemeente gelukken mogt een vasten Leeraar te hebben, bestaat er geen twyfel, of het dorp zal in alle opzigten opgang maken"

Een van die eerste noodsaaklike geriewe waarvoor voorsiening gemaak is, was Poskantoor en op 15 Maart 1856 word die sakeman Fritz Meeser as Heidelberg se eerste Posmeester aangestel, teen die gebruiklike vergoeding van £6 per jaar wat later darem tot £20 en 'n kommissie op posseëls verhoog is. Meeser is in November 1862 deur P. G. Steyn opgevolg en hy weer op 1 Januarie 1873 deur N. W. Pentz, jnr. Ook op Malgas (sedert 1858), Rietkuil (1856), Port Beaufort (1853) en Krombeksrivier (1860) was daar poskantoortjies. Op 7 Oktober 1875 is daar in die dorp 'n telegraafkantoor geopen en op 1 Junie 1884 ook 'n Posspaarbank.
Fritz Meeser is op 15 September 1858 ook tot Vrederegter benoem teen £15 per jaar en nou kon die dorpie ook op die dienste van 'n konstabel aanspraak maak, ofskoon die eerste persoon van wie ons verneem dat hy hierdie betrekking beklee het, E. Porter was wat vanaf 1 Augustus 1859 in die diens was teen £50 per jaar plus woonkwartiere en £25 vir perdevoer. Vanaf 1857 het die ingesetenes sterk daarna verlang om periodieke hofsittings in Heidelberg te hê, die magistraat het hulle gesteun en sedert 30 Januarie 1860 het die magistrate van Swellendam die dorpie gereeld besoek.

Munisipale Raad (1862)
Eindelik het die dag aangebreek dat die dorpie hom ook in sy eie plaaslike bestuur kon verbly. Die munisipale regulasies wat op 28 Desember 1861 opgestel is, word op 19 Maart 1862 deur Goewerneur Sir Philip Wodehouse goedgekeur en op 8 April d.a.v. gepubliseer. Die vyf eerste Kommissarisse was waarskynlik J. J. Barry, J. M. Ebersohn, P. K. Krige, J. V. Buchner en F. J. de Villiers. Joseph James Barry (1834-1870) was die voorsitter. Hy was 'n seun van Thomas, een van die twee Barry-"Neefs" en die verteenwoordiger van die magtige Barry en Neefs in Heidelberg waar die huidige Masonic Private Hotel die middelpunt van hul veelvuldige bedrywighede was. In 1859 is hy met Susanna Maria Bland getroud wat hom drie seuntjies en 'n dogtertjie geskenk het en wie se tragiese dood in Februarie 1866 'n wolk oor die groot familie en 'n donker skaduwee oor die orige jare van sy lewe gebring het. Op mev. Barry se verjaardag het sy nagereg aan twee bevriende huisgesinne gestuur, met die gevolg dat sowat twintig persone wat daarvan geëet het, op Maandagoggend almal ernstig siek was. Eers op Woensdagoggend het Dr. Henry White en Dr. Albert Weinstein (wat self 'n maand later in Mosselbaai verdrink het) in Heidelberg aangekom om te help, maar mev. Barry het beswyk. Die dokters het saamgestem dat dit waarskynlik arseenvergiftiging was. 'n Ondersoek is ingestel, maar niemand is skuldig bevind nie. Die arme Joseph het hom later aan onverantwoordelike dade skuldig gemaak en op 16 Augustus 1870 het hy op reis ná óf in die Vrystaat onder 'n wawiel verongeluk.

Hoë Besoek
Op 28 Oktober 1862 is Goewerneur Wodehouse en sy gade op hul reis na Knysna in Heidelberg met 'n geesdrif ontvang en onthaal wat Swellendam in die skaduwee gestel het. Die hoë geselskap is buitekant die dorp deur 'n kommando van karre en perde ingewag; by die ingang van die dorp was 'n welkomsboog, terwyl die hele hoofstraat met wapperende vlae en kunstige boë versier was. Die stoet het voor die pastorie stilgehou wat keurig ingerig was deur mnr. en mev. F. Meeser en waar die vrygesel S. C. Burford vir 'n smaaklike ete gesorg het.

Geneeskundig
Heidelberg se heel eerste geneesheer was waarskynlik J. Boomsma wat kort van tevore uit Nederland gekom en hom in Oktober 1862 in die dorpie gevestig het. Hy het seker nie lank gebly nie en in 1874 kry die dorp sy eerste vaste dokter in Dr. Henry Grave Biggs wat tot aan sy dood in Julie 1913 die gemeenskap gedien het. Hy was van 'n baie gesellige aard en vir baie jare burgemeester. Oubaas Albert White het jare lank as "dokter" bekend gestaan en aptekersmiddels verskaf.

Hofsake
In die oorspronklike ooreenkoms waardeur L. J. Fourie op 14 September 1855 'n gedeelte van sy plaas vir die oprigting van 'n dorp verkoop het, was daar 'n klousule waarvolgens hy aan alle toekomstige erfhouers weiregte verseker het op 'n sekere deel van die grond wat hy oorkant die rivier behou het. Dit sou as 'n servituut in alle transporte van dorpserwe gevoeg word. In 1860 het hy egter 'n deel van die genoemde weiveld omhein, dit besaai en deur sy eie vee laat afwei, met die gevolg dat die Munisipale Raad hom in 1863 voor die Rondgaande Hof laat daag en onder andere £200 skadevergoeding geëis het vir die verliese wat die erfhouers gely het. Regter Cloete het Fourie in die ongelyk gestel, hom gebied om die omheining en slote te verwyder en £5 skadevergoeding te betaal.
Nadat P. J. Uys die plaas uit Fourie se boedel gekoop het, was die kwessie nog moeiliker dan vroeër, want die rivier het sy loop verander en tussen die ou loop en die nuwe het daar sowat negentien morge gelê wat die Binnevlei genoem is. Hierdie grond het Uys ook geëis en wéér het die Raad hof toe gegaan. Hierdie keer is hul eis om skadevergoeding op £500 gestel. Vir drie dae lank het Hoofregter De Villiers in Mei 1898 na die twee partye geluister en toe 'n uitspraak gegee wat hoofsaaklik in die guns van die eisers was. Weer is die skadevergoeding egter op £5 bepaal.
En in verband hiermee lui die storie nou dat Fourie die dorp sou vervloek het dat dit met water sou vergaan, aangesien hy nooit daarvan bewus was dat daar so 'n klousule in die oorspronklike Akte van Ooreenkoms was nie!